Blogs

Vereniging Van Uitsaaiveterane Vier Twee Jaar Van Die Bemagtiging Van Jong Uitsaaiers

todayAugust 5, 2026

Background
Die Vereniging van Uitsaaiveterane vier vandag, 5 Augustus 2026, sy tweede bestaansjaar by Mugg&Bean in Wernhil, Windhoek.  Daarmee herdenk ons twee jaar van belegging in die toekoms van uitsaaiwese. Sedert sy stigting het die Vereniging suksesvol voornemende uitsaaiers op skool- en universiteitsvlak opgelei, terwyl dit ook gehelp het met die vestiging van twee skoolradiostasies om leerders praktiese uitsaai-ervaring te bied. 
As deel van sy voortdurende verbintenis tot jeugontwikkeling, sal die Vereniging in die komende weke jong uitsaaiers bystaan met die bekendstelling van ’n weeklikse jeugprogram op ’n kommersiële radiostasie in Namibië, Nova 103.5.  Die program sal jong uitsaaiers insluit wat die Vereniging se opleiding voltooi het, en hulle die geleentheid bied om hul aanbiedingsvaardighede op die lug te ontwikkel onder leiding en mentorskap van ervare, professionele uitsaaipersone. 
“Die toekoms van uitsaaiwese hang af van die geleenthede wat ons vandag vir jongmense skep,” het die sameroeper van die Vereniging van Uitsaaiveterane, Kolie van Coller, gesê. “Ons is trots op wat die afgelope twee jaar bereik is en bly DV verbind tot die begeleiding en inspirasie van die volgende generasie uitsaaiers.” – met ons inspirasie en krag vervat in ons leuse, Filippense 4:13 – Ek is tot alles in staat deur Christus wat my krag gee. 
Terwyl die Vereniging hierdie belangrike mylpaal vier, bevestig dit weer sy verbintenis tot die bewaring van uitnemendheid in uitsaaiwese, asook die ontwikkeling van nuwe talent deur middel van opleiding, mentorskap en praktiese ervaring in die bedryf. 
Ons is diep dankbaar oor die verwikkelinge en aktiwiteite van die Vereniging van Uitsaaiveterane tot dusver in 2026.  Verskeie opwindende projekte en inisiatiewe is van stapel gestuur en suksesvol afgehandel. 
Die klasse by die Universiteit van Namibiё het reeds uitstekende resultate na hul eerste semester opgelewer.  Dit is duidelik dat die studente die geleentheid wil aangryp en baie goeie vordering is sigbaar.  In die tweede semester gaan ons meer op die praktiese aspekte van uitsaai fokus en hulle nader aan die praktyk bring vir verdere blootstelling. 

Windhoek Afrikaanse Privaatskool (WAP) se opleiding-sessies was baie suksesvol en hul skool radiostasie begin DV binnekort uitsaai.  WAP se vertoonuitsending by die Grove Mall in Windhoek was ‘n klinkende sukses met die jong WAP omroepers wat die geleentheid aangegryp het en hul slag gewys het! 
 
Ons bly ook steeds in kontak met Windhoek Gimnasium en is dankbaar om te berig dat hul skool radiostasie, Red Aloe Radio, lekker aktief is en van krag tot krag gaan.

‘n Baie opwindende verdere verwikkeling is die ondertekening van ‘n memorandum van verstandhouding met NOVA 103.5, wat beplan om DV begin September vanjaar elke Woensdagmiddag tussen 15:00 en 16:00 ‘n program gefokus op die jeug aan te bied.  Voorbereiding word tans in hierdie verband gedoen en ons jong opgeleide omroepers gaan agter die mikrofoon inskuif om die program aan te bied!

Written by: Anne Mans


Contact Us

Nova-phone-icon
Office:
Phone: 083 000 1000
Nova-phone-icon
Studio:
Phone: 083 000 1035
Telegram: 083 000 1035
Whatsapp: 083 000 1035
Nova-marker-icon
Location:
42 & 44, Hyper Motor City, Maxwell Street, Windhoek

FOLLOW US ON FACEBOOK